Pages

Thursday, May 17, 2012

ONS HET DIT NIE SIEN KOM NIE...



Die blog het ‘n bietjie stilgestaan by die laaste dag in Bulgarye, Oktober 2011, maar ons paadjie het allermins…

17 Mei 2012 – vooraand van ons volgende reis na Bulgarye! ‘n Opgewondenheid brand binne ons, opgewonde en afwagtend om die volgende fase van ons ‘roalercoaster’ rit saam met God mee te maak!

Soveel het gebeur sedert ons laaste besoek aan Bulgarye,  in Oktober 2011...

God se sagte aansporing om los te kom van die wêreld... wat beteken dit alles? Hoe kry mens dit reg terwyl jy nog IN die wêreld is met al die uitdagings van die wêreld?

God kom maak deure oop, Hy kom wys ons, treë vir treë, waarnatoe volgende. Hier is net een van so baie Woorde wat God ons kom gee het net nadat ons terug gekom het...

Psa 32:8
(ANV)  Ek wil jou onderrig en jou die pad leer wat jy moet volg. Ek wil jou raad gee en my oog oor jou hou.
(AOV)  Ek wil jou onderrig en jou leer aangaande die weg wat jy moet gaan; Ek wil raad gee; my oog sal op jou wees.
(ESV)  I will instruct you and teach you in the way you should go; I will counsel you with my eye upon you.

God kom wys vir Kobus en Gerard (vennoot en vriend vir jare) dat hul moet oop wees vir ‘n ander manier van werk.. dalk verantwoordelikhede by die werk deel? Aan en af mekaar aflos, dalk 6 maande / 6 maande… 3 maande / 3 maande… Sodoende kan elkeen van hul ‘vry’ kom van hul verantwoordelikhede by die werk en tyd spandeer waar God hul na toe roep…

Wat van ons huis in Wapadrand? God deel met ons mee om in ‘n 2-slaapkamer tuinhuis by Gerard hul, op hul plot (landgoed) in Glen Austin, Midrand, in te trek en sodoende in ‘n posisie te kom om net ‘deure te kan toetrek’ en honde in veilige versorging te los... Hul huurder trek ‘vanself’ ‘n week voor ons moet verhuis uit! God se tydsberekening en planne het geen detail uitgelaat nie! Ons ontvang wonderlike huurders, letterlik die tweede gesin wat kom kyk het, en teken ‘n 2 en half jaar kontrak!

‘n Volgende gevolg is dat God ons lei om Christoph tuis te onderrig (homeschool). Hoe God ons seuna self hiertoe voorberei het, het ons ouerharte met diepte en deernis gevul! Ons dien ‘n God, wat so groot is en lief is vir ons, dat Hy in elke klein besorgdheid van ons voorsien! Wat ‘n voorreg is dit nie, om hierdie pad saam met jou kind te stap, en te sien hoe God hom vorm nie! Wat ‘n voorreg, en ons dank ons Hemelse Vader gedurig hiervoor!

Tussen die trekkery na ‘n ander deel van ons land (glo ons, Midrand en Pretoria is 2 wêrelddele, net 50 km verwyder van mekaar!) en die homeschool se babastappe neem, het God ons kom seën met 2 ongelooflike kinderhuiskampe op die plaas! Hy het arbeiders gestuur om saam met ons te dien, en Hy het ons nie teleurgestel nie. Ons is tot geen van hierdie dinge instaat nie, net Hy kan in en deur ons werk! Met hierdie besef, was dit of alle krane van seën oor die kinders en oor ons uitgestort is! Wat ‘n belewenis! Ons dank God en ons dank elkeen wat van homself kom gee het!

In ons agterkoppe en ons harte het ons geweet dat ons graag weer wil terug gaan Bulgarye toe ... dat God ‘n plan het daar vir ons ... Een van die drome wat ons gehad het, was om saam met Jack en Elsabe Louw, sendelinge uit die Kaap wat nou al 14 jaar in Bulgarye werk, ‘n kamp met kinderhuiskinders in Bulgarye te doen. Nooit het ons besef, dat God hierdie droom van ons so gou gaan waarmaak nie! Met Jean-Pierre, Rita en Jordan se regmaak om Bulgarye toe te vertrek om die huis in Gostilitsa te gaan begin restoureer, en regmaak vir die eerste uitreikspan, het ons besef dat ons harte brand om te gaan! Die 1e uitreikspan se datum is bepaal... die kamp saam met Jack en Elsabe se datum is bepaal... Die tydsverloop tussen die eerste uitreik en die kamp, is 3 maande! Tydens ‘n oggenddiens by die kerk, kom bevestig God vir ons, dat ons kan gaan! Vir 3 maande! En hier staan ons op die vooraand van hierdie 3 maande...

Wat God nie alles kom doen het nie! Ons staan in verwondering... Ons eer Hom! Die opgewondenheid brand binne ons...

Psa 18:29  (18:30) Want met U loop ek ‘n bende storm, en met my God spring ek oor ‘n muur. 
  

No comments:

Post a Comment