Pages

Thursday, June 28, 2012

Koffie, kuiergaste en kat-dinge

Jack, Elsabe en Lora Louw het al die pad van Sofia af (3 ure se ry!) vir ons  kom kuier! Wat 'n lekkerte was dit nie gewees nie! Ons het te lekker in Afrikaans gekuier, harte gedeel asook roomys gaan eet in ons eie klein en enigste winkel(tjie) hier in Gostilitsa!


Ons ontmoet hul die 22ste Julie in Sofia, waar ons 2 weke saam met hulle en nog 32 ander vrywilligers van oor die hele wêreld 'n kamp met 50 kinders van Bulgarye gaan meemaak. Jack en Elsabe is nou al 14 jaar woonagtig hier in Bulgarye en bied jaarliks hierdie kamp aan. Ons vertrou dat God elkeen van ons kragtig sal gebruik in elke kind se lewe.


Die uitsig vanaf die boonste verdieping laat my telkens stilstaan voor ek by die trappe af loop... Dit is net ongelooflik mooi!


Uitsig vanuit ons kamer venster, dorp se kant toe. Ek en Christoph stap elke dag winkel toe om brood, katkos of aartappels te koop, maar die eintlike rede is die kontak met wie ookal ons in die straat of in die winkel raakloop! Verhoudinge word gebou en die taal word geoefen! Dit gaan maar stadig... maar ons selfvertroue staan vir niks terug nie!


Sondagmiddag koffie en koekies by Marianna (van die skool) en haar ouma en oupa se huis met al die ander familie wat baie vrae oor Suid-Afrika te vra het! Die arme Marianna en haar sussie (nie in die foto hierbo) moes net bontstaan met die vertaling! Want nie een van hul praat Engels nie en ons gebroke Bulgaars gaan ons in so 'n gekuier nie veel help nie!



Die katjies is te oulik vir woorde! Ons geniet hulle baie! Mamma-kat Abu het haar eerste muis ingebring vir die kleintjies. Ons aldrie het die affêre groot-oog dopgehou en was verstom om te sien hoe Abu die kleintjies se aandag op die muis probeer vestig het. Asook hoe sy die vangery mimiek en hulle probeer kry om dit na te boots! Mens besef net weer hoe ongelooflik God alles gemaak het ...


Christoph se klimrame kry groot aftrek! Hul klim en klouter al te oulik! Die 'bokspring'-mannewales is vir ons die oulikste!!


 Een keer 'n week neem ons die uittog na Veliko Turnovo vir aankoop van voorrade. Dit bly vir ons een van die mooiste plekke in Bulgarye! Die strate was laasweek Vrydag aand vol studente en gesinne wat die lekker warm weer geniet en sommer net rondloop en kuier! Die atmosfeer was aansteeklik ...


No comments:

Post a Comment